[go back to previous page]

Rolbalwedstryde gedurende die jaar

Monday, 10 December 2018 12:50
Wedstryde waar die klub jaarliks by betrokke is, kan in vyf kategorieë verdeel word naamlik interne klubkampioenskappe, ligas en wedstryde van die Westelike Provinsie klubs, die Hottentotsholland of “Die Kom” se kompetisies, vriendskaplike byeenkomste tussen klubs vir fondsinsamelings en skyfies-in (tabs-in) sosiale wedstryde.

1. Interne klubkampioenskappe
Hierdie westryde vind plaas tussen Oktober en Mei elke jaar en word plaaslik gespeel tussen die klublede. Klubkampioenskappe sluit alle kompetisievorme in vanaf enkelspel deur parespel, driespel en viere vir mans en dames, asook spanne waarin beide geslagte speel. Die hoogtepunte gedurende hierdie wedstryde is sonder twyfel die mans en vroue enkelspel wedstryde. Daar is ook ‘n kategorie vir beginners naamlik die Novices afdeling.

2. Westelike Provinsie wedstryde
Dit vind jaarliks plaas vanaf middel Januarie tot einde Maart. Helfte van die ligawedstryde word plaaslik gespeel en die res wegwedstryde. Die klub ding mee in vier kategorieë nl.: -
  • Mans Premierliga (Vlag) – net ‘n paar klubs in die Westelike Provinsie kan daarop aanspraak maak dat hulle in hierdie liga meeding. Die Stellenbosch Van der Stel Rolbalklub is besonder trots om in hierdie sterkste liga van die provinsie te speel. Daarom ook dat daar jaarliks ‘n paar spelers van die klub gekies word om die provinsie te verteenwoordig op nasionale vlak.
  • Mans en vroue tweede liga (onderskeidelik Vlag en Muter) – dit is steeds baie sterk ligas om in mee te ding en die klub vaar elke jaar baie goed in hierdie ligas. Dit is ook die liga waar die meeste van die klubspelers by betrokke is en wedywering is straf tussen al die lede.
  • Die Sully wat deur vrouespanne van vier elk gespeel word.
  • Die Novices uitklopkompetisie word gespeel tussen die onderskeie klubs se beginners, mans en vroue apart, en elke jaar word daar ook Novice kampioene gekroon. 

3. Die Hottentotsholland ligas
Dit staan ook bekend as “Die Kom” ligas wat gespeel word tussen spanne van Stellenbosch, Helderberg, Somerset Wes, Gordonsbaai die Strand ensomeer. Hierdie wedstryde is steeds baie kompeterend maar word gespeel in ‘n meer ontspanne atmosfeer. Daar is verskeie kompetisies soos byvoorbeeld die Mans Pensionarisse wat op Woensdae gespeel word en die Provan waarin mans en vroue spanne op Saterdae meeding.

4. Klubs se fondsinsameling wedstryde
Die klub bied twee heeldagkompetisies aan deur die jaar vir geldinsameling waarnatoe spelers van ander klubs uitgenooi word. Soortgelyk ontvang die klub ook dosyne uitnodigings deur die jaar na kompetisies by ander klubs van reg oor die provinsie waarby pryse vir die wenners beskikbaar is. Hierdie kompetisies neem vele vorme aan in terme van spangroottes, kombinasies van mans en vroue en aantal rondtes gespeel.

5. Skyfies-in
Benewens bostaande word daar ook elke week reg deur die jaar op Dinsdae, Donderdae en Saterdae sosiale wedstryde onder lede gespeel in ‘n gesellige atmosfeer. Lootjies word getrek om spanne saam te stel. Na die tyd word ‘n paar drankies saam geniet wat gewoonlik gepaardgaan met heelwat skertsery en vrolikheid.